Sceptic Stories

Die voorbereiding vir Operasie Sceptic.

1.Blou Maandag.

Maandagoggend breek toe aan. Dit is 2 Junie 1980. D-dag vir Operasie Sceptic sou op 10 Junie 1980 wees.

Hê begrip vir die situasie waarin ek is. Niemand het, tot op daardie stadium, vir my enige soliede aanduiding gegee dat ek hoegenaamd op die regte plek is nie. Met my agtergrond, was dit in elk geval snaaks dat ek by 61 Meg is — in die eerste plek.

Afgesien daarvan, lyk ek tóé soos ek lyk — verbande, ens. Daar was ‘n beperkte deel van my kop en gesig wat nie geswel en/of blou was nie. In ag gegeem met alles in my guns, was die vertrekpunt in elk geval glad nie aantreklik nie.

Kom ons sê ek het daardie Maandagoggend nie goed gelyk nie.

2.Die Tweede-in-Bevel ontmoet 61 Meg se bevelvoerder.

Toe daag die bevelvoerder op — Kommandant Dippenaar.

Ons was gelukkig nie totale vreemdelinge vir mekaar nie maar het nooit voorheen saam gewerk nie — hy het van my eksamen TOST’e (taktiese oefeninge sonder troepe) op veggroepbevelvoerderskursus gemerk.

Tipies hy, het die onderhoud kort en saaklik verloop.
Nadat hy my agtergrond bevestig het; “Sien jy kans vir die uitdaging?”
Dit sou onrealisties gewees het om op daardie stadium van my te verwag het om nee te sê.
Daarna: “Nou goed, ek is nie daaraan gewoond om met ‘n Tweede-in-Bevel te werk nie. Jy sal maar jou voete so gou as moontlik moet vind. Ons vertrek oor ‘n paar dae op ‘n operasie en daar is nog baie wat gedoen moet word. Kry die orders en die ander voorbereiding in plek.”

3.Die skryf van opsinstruksies is nie maklik nie.

Ek kom spoedig agter dat die voorbereiding vir die operasie al in ‘n gevorderde stadium was. Daar was reeds ‘n basiese plan wat die eenheid al ingeoefen het. Ek moes die opsinstruksies vir dié plan skryf. Om dít te kon doen, moes ek ‘n hele paar staftoetse doen.

Ek het die instruksies met die hand geskryf op Omuthiya; dit is dan per voertuig deurgestuur na die eenheidshoofkwartier op Tsumeb waar dit op wasvelle getik is; die wasvelle is dan teruggestuur Omuthiya toe waar dit nagegaan, geteken en teruggestuur is Tsumeb toe vir reproduksie.

Daar was gewoon nie spasie vir foute of weglatings in die handgeskrewe kopie wat ek aanvanklik Tsumeb toe gestuur het nie. Natuurlik het dít negatief op my slaappatroon ingewerk — met die goed wat in die dag aan die gang was, was dit ‘n goeie inoefening vir stafkursus.

4.61 Meg se personeelbehoeftes word flink aangespreek.

Daar het daagliks mense by 61 Meg aangekom — asof uit die bloute. Ek kom toe agter dat 61 Meg êrens in die verlede ‘n personeelbehoefte gestel het. Soos wat dit met my gebeur het, het Direkteur Operasies — Leërhoofkwartier, soos hulle hulle hande op mense kon lê, hulle aangestuur.

Die uitdaging wat ek hier gehad het was om dié mense, sinvol, binne die strukture soos wat die mag georganiseerd sou wees vir die operasie, geplaas te kry. Dié soort ding is nie so eenvoudig soos dit hier mag klink nie. Die persoon wat aanmeld is nie noodwendig presies reg opgelei vir die pos wat hy moet vul nie. Dan moet daar verskuiwings gemaak word om die beste van die saak te maak.

5.En waar is my persoonlike voertuig?

Die eenheid het nog nie oor al die voertuie beskik nie — “dit was op pad vanaf Pretoria.”

Een so ‘n voorbeeld was my Ratel. Ek het dus die inoefeninge gedoen terwyl ek agter in die bevelvoerder se Ratel gesit het met oorfone op my kop. My Ratel het, uiteindelik, die dag voor ons moes vertrek daar aangekom. Toe moes dit nog na die LWT toe gaan om nagegaan te word. Ek het dus, vir alle praktiese doeleindes, my Ratel en bemanning die oggend voor ons vertrek het gekry.

6.Kom ons praat kopstukke.

Dié saak was natuurlik nie só eenvoudig nie — nie met my beserings nie. Die opsit en afhaal van die kopstuk, oor my stukkende voorkop en oor, was geen plesier nie. Ek het saam met die oggendkoffie ‘n hand vol pynpille gedrink. Sodra ek agterkom dat die pynpille begin werk, het ek seker gemaak niemand is in die omgewing nie — dan het ek die kopstuk opgesit.

Dit het op my kop gebly tot na die oefening. Soms was dit snaaks — ek was al een van die bevelsgroep met ‘n kopstuk op tydens kort besprekings tydens die inoefeninge. Vir my was dit nie maklik nie.

7.Liewer laat as nooit.

Soos met die voertuie was daar ook leemtes in die rutte van baie van die voertuie en uitrusting wat op pad van Pretoria af was. Voorbeelde hiervan was ‘n hele klomp kamoefleernette en paploopwiele wat eers by ons aangesluit het in die versamelgebied by Eenhana.

8.Ek moet skielik Eenhana toe gaan.

Brigadier Witkop Badenhorst, bevelvoerder van Sektor 10, het op ‘n stadium op Omuthiya aangekom. Hy het kom kyk hoe die voorbereiding vorder. Een van die uitvloeisels van dié besoek was dat ek opdrag gekry het om die volgende dag Ondangwa toe te gaan en vandaar na Eenhana vlieg om te gaan reëlings tref vir die aanvulling van die veggroep daar voor ons die grens sou oorsteek.

Dit het my ‘n rukkie geneem om te begryp dat Brigadier Badenhorst en Kommandant Dippenaar ernstig was met die opdrag dat ek Eenhana toe moes gaan. Sien, daar was nog baie werk aan die opsinstruksie te doen en, as ek sou moes gaan, sou ek dit moes voltooi vóór ek vertrek — daarna sou daar gewoon nie genoeg tyd wees nie. Toe slaap ek die nag glad nie en maak die opsinstruksie klaar.

9.Eenhana toe , ne? Dis nie sommer net vir gaan nie.

Die Eenhana ervaring het min of meer só verloop.

Daar was ‘n klompie valskermtroepe wat met die oog op die operasie moes deurgaan na Ondangwa toe. Hulle sou met ‘n Kwê daarheen vervoer word. Ek ry toe sommer saam met die Kwê. My plan was heel eenvoudig. Kwê tot op Ondangwa; daar is ‘n vastevlerk vir my gereël; vastevlerk tot op Eenhana; vergadering en koördinering en dan vastevlerk vanaf Eenhana direk na Operette waar 61 Meg my sou kom oplaai. Kan tog nie so moeilik wees nie?

Na aanleiding van die vorige nag se opsinstruksieskrywery het ek van die begin af beplan om op pad te slaap. ‘n Kwê het ‘n baie groot kajuit en ek is ‘n man van normale lengte. Ek het van meet af aan iemand gekry om voor by die drywer te kom sit. Ek het myself op die vloer van die kajuit tuisgemaak — nee, my voete was nie eers naby die drywer se pedale nie, onthou my normale lengte.

Ek glo nie ons was al uit Omuthiya uit nie toe slaap ek vas. Op ‘n stadium daarna, ek het geen idee van hoe lank ek geslaap het of waar dit was nie, het ek wakker geskrik met ‘n helse slag. Onmiddellik om my, dws in die kajuit, het dinge nie buitengewoon gelyk nie. Die Kwê het tot stilstand gekom en ek het opgekom vir vars lug.

Dit blyk toe dat die drywer van die Kwê té na aan ‘n PB-bakkie gekom het voor hy uitgeswaai het om verby te gaan. Met die stamp van die Kwê van agter het die PB-bakkie natuurlik heel bekwaam spoed opgetel. Soveel so dat dit sy vrag summier afgelaai het.

Die vrag, onder andere ‘n klomp houtstompe, is onder die Kwê deur. Gelukkig was daar niemand agterop die bakkie nie en gelukkig was die drywer van die bakkie vernuftig genoeg om die vaartversnelling te kon hanteer en sy bakkie op sy wiele te hou. Toe alles tot stilstand kom staan die PB-bakkie links van die teer af; die Kwê regs van die teer af en die vrag lê in die pad. Niemand het seergekry nie.

Die drywer van die PB-bakkie dring toe daarop aan dat hy, met sy nuwe voorkoms, geherklassifiseer wil word as ‘n blanke — hy het hom wit geskrik.

Die vrag hout wat onder die Kwê deur is, het die Kwê se “tie-rods” gebuig. Daar staan die Kwê. En die tyd loop vir my uit — ek het ‘n vliegtuig om te haal.

Die PB-bakkie het sy vrag weer gelaai en vertrek.

En daar staan ons. Die paar motorkarre wat verby kom is só vol dat daar beslis nie spasie vir my en nog iemand in hulle is nie. Ons wag en wag.

10.Vanaf Ondangwa tot Eenhana na ek eers ‘n debatskompetisie moes wen.

Uiteindelik kom daar ‘n lorrie met ‘n vrag sementsakke op verby. Ons los ‘n klompie van die valskermtroepe by die gestrande Kwê en ‘n klompie van hulle gaan saam met my op die sementlorrie. So, agter op die sementlorrie, baie ver buite my beplande tye, kom ek op Ondangwa aan.

Ek en ‘n Lugmag majoor het ‘n redelik lewendige debat oor die feit dat ek laat was vir my vlug na Eenhana. Dit het selfs meer lewendig geword toe ek daarop aandring dat ek nóú na Eenhana geneem wil word. Beide van ons se sin vir humor was onder groot druk.

Toe kom ek op Eenhana aan. Dit was laat middag. Die vergadering waarvoor ek daar moes wees is redelik lankal al afgehandel. Nietemin kry ek dit reg om die nodige reëlings te tref. ‘n Veggroep soos wat ons sou wees is ‘n groot ding — daar is baie voertuie wat baie brandstof, verskillende soorte, nodig het.

11.Nou weer terug Omuthiya toe.

Met die reëlings, so goed ek kon, getref, begin ek aan teruggaan Omuthiya toe dink.Dit was al sterk skemer.

Ek maak somme van die tyd, afstand/vlugtyd, ens. Ek kyk na die donker wat besig is om toe te sak. Ek weet Operette het nie ligte nie — dit is net ‘n landingstrook in die bos. Ek vryf oor my kop en die verbande en wonder. Ek dink aan die Kwê en wonder of dit al herwin is — indien nie of die troepe OK is met water, rantsoene, ens? Ek is nie gemaklik nie. Ek sê so vir die vlieënier en ook dat ek OK sal wees as hy wil, of móét, terugkeer na Ondangwa toe.

Die vlieënier is ‘n bitter jong tweede luitenant. Ek verstaan nie alles wat hy doen, of moet doen, of veronderstel is om te doen nie, maar ek het al genoeg in die bos gevlieg om tot die gevolgtrekking te kom dat dié jong man ‘n baie goeie drywer van ‘n lugraam is. Nie dat ek noodwendig ‘n sê in dié soort sake gehad het nie, ek sou my maar by die besluit van daardie jong man berus. As hy sou wou direk terug vlieg Ondangwa toe sou ek dit só aanvaar het en daarvandaan my volgende stap beplan het. Ek het só vir hom gesê.

Sy antwoord was heel eenvoudig: “Nee, Majoor, dit is nie ‘n probleem nie. Ek sal jou op Operette gaan aflaai — die maan is goed. As jy my sal verskoon, sal ek net nie kan bly nie. Ek sal gaan land, jou aflaai en dan dadelik vertrek. Intussen sal ons via Ondangwa vir 61 Meg laat weet. Is dit OK?” Vir my was enige iets tóé OK.

Natuurlik het ek nie alles beleef soos hy nie. My opinie? Daardie jong man had ‘n stel ballas groter as enige skou Brahmaanbul.

Nadat die vlieenier my by Operette se landingstrook afgelaai het , toe vertrek hy — hoe weet ek nie — in die lug in en weg.

12.Die ligte van die voertuig wat my kom haal het was baie mooi.

Om my is dit skielik stil — baie stil.

Enige infanteris is ‘n kuddedier. Ek kom agter ek is alleen — baie alleen. Het die Lugmag die berig deurgegee? Het ‘n verantwoordelike individu by 61 Meg die boodskap ontvang, dit verstaan en iets daaraan gedoen? Ek het byna niks by my nie — skeletseiluitrusting van soorte, ‘n geweer met een magasyn, ‘n waterbottel en ‘n notaboek in my sak. Hoe lyk die kaart nou weer? Watter kant toe lê Omuthiya? Hoe vér is dit? Jy kan die stilte met ‘n mes sny — en ek wonder.

Die ligte van die voertuig wat my kom oplaai het , was baie mooi.

Ek het daardie aand soos ‘n klip geslaap — ek was moeg. Dit was die nag van Donderdag/Vrydag (5/6 Junie 1980.)

13.Laaste voorbereidings en die eerste beweging.

Deur die loop van Vrydagoggend het my Ratel, saam met ‘n paar ander uitstaande Ratels en voertuie, op Omuthiya aangekom. Ek het my bemanning die eerste keer ontmoet en my Ratel is saam met die ander voertuie LWT toe.

Ek is gedurende die loop van die oggend terug na SWA Spes toe sodat die dokter die steke aan my kop en oor kon uithaal. Ja, dit wás toe die dokter wat my die Saterdag behandel het. Hy was tevrede — nie dat dit enige iets aan my situasie sou verander het nie. Hy het ‘n helse goeie job daardie Saterdag gedoen. Ek het bykans geen letsel van dié episode oorgehou nie — nie dat dít regtig sou saak maak nie.

Die eerste bewegings het begin plaasvind. Jakes Jacobs en vegspan 30, die pantserkarre, het vertrek en laat die middag het een van sy voertuie ‘n myn getrap. Die Kommandant het dié saak hanteer — ek was daarvoor baie dankbaar. Dit was Vrydag — 6 Junie 1980.

Ek was besig om myself te probeer uitsorteer — “pak en dra” van uitrusting is vervang met “pak en ry” van uitrusting. Die trommel boeke was nie deel van my uitrusting nie — dit het in die Withuis op Omuthiya