Hierdie slang was ook nie in die gras nie
Dit vat nie ‘n baie groot slang om ‘n mens te laat skrik nie, veral as jy in ‘n Ratel ry nie. Dit het gebeur terwyl ons in Angola was en ons onderdeur ‘n boom gery het en een van die troepe agter op die Ratel gesit en droom het van die dag as hy kan uitklaar, toe die nagmerrie hom getref het. Tot vandag weet ek nie wie die grootste geskrik het nie, die slang of die troep of albei nie, die slang is binne die Ratel en die troep staan so ‘n tien meter weg van sy voertuig af en jy sien net deure oopgaan soos die troepe oormekaar val om eerste uit te kom, nogal ‘n gesig om iemand so haastig te sien soos daardie dag.
Die beste slangvangers vang nie self die slang nie
Moet nou nie dink dat iemand jou gaan help as daar ‘n slang in die gras, ek bedoel ‘n slang in jou voertuig is nie, nee dit kan jy maar vergeet want troep se kind wil nog huis toe gaan. Hoekom gaan en sukkel met ‘n ou slangetjie. Nee, die Sammajoor is mos daar hy sal weet om die slang se gif, ek bedoel, se gal te werk. As julle gedink het die beste rugbyspelers sit op die pawiljoen dan moet julle nie die beste slangvangers sien nie, nee hulle staan sommer so rondom jou en raadgee. Die professionele slangvangers sou gebloos het as hulle al die raad moes aanhoor wat ek daardie dag moes aanhoor, maar terug na die slangvangery.
Die slang wys sy tande vir my
Mnr Slang het hom of haar gaan opkrul agter die brandstoftenk en daar was nie eintlik tyd om die tenk uit te haal nie, maar hoe gemaak om slang se kind daar uit te kry. ‘n Geraas en ‘n gekap het net mooi niks gehelp nie en om ‘n stok agter in te steek het ook nie veel gehelp nie en daar is ook nie spasie nie. Ek sê vir julle dit het gelyk na ‘n onbegonne taak want die slang was al redelik kwaad vir my want hy het hom begin opblaas en dit het gelyk of hy hom vir my vererg het want die ou het begin om sisgeluide te maak en om alles te kroon het hy vir my begin tande wys en dit was nie sommer so ‘n “smile” nie. Nee, die tandewysery het baie eg gelyk want sien hierdie storie het op ‘n Saterdagmiddag so rondom drie uur se kant gebeur. Dit is mos die tyd wat ‘n mens gewoonlik lê en slaap of rugby kyk. Hy het nie ‘n televisie gehad nie, dis hoekom die ou so kwaad was, so dink ek maar.
Is dit ‘n slang wat pik of spoeg?
Die probleem met die vangery was dat ek nie geweet het watter soort slang dit is nie, is dit ‘n slang wat pik of is dit een van daai ouens wat spoeg? Ek is ‘n tiffie, nie ‘n slangvanger nie. Die bevelvoerder wou weet wat aangaan want hoekom kan ons nie die vreksel uitkry sodat ons, ons ry kan kry nie. In oomblikke soos hierdie redeneer jy nie met een van die twee nie, net met die een wat kan seil en pik en spoeg.
‘n Gasvlam doen die ding
Daar is niks wat ‘n ding kan skrikmaak soos ‘n gasvlam nie. Die warmmaak proses het van buite af begin, so in lyn met die adder. Hoe warmer dit van buite af geword het, so dikker het die slang geword, hy het nou begin lyk soos ‘n blaasop-padda, net langer. Die warmmaak proses het begin werk, hy het begin om uitkomplek te soek en ek het dit vir hom maklik gemaak om van binne-af sy gal te werk.
Die ou dikke het die aftog geblaas toe hy die agterdeur van die Ratel gekry het, vry soos ‘n vis in die water en die konvooi kon verder beweeg.