1.Inleiding.
Mý storie van 61 Gemeganiseerde Infanteriebataljon?
Om te verstaan, is dit waarskynlik nodig dat ek net eers verduidelik wie ek is, of was, op daardie stadium. Ek praat van Mei/Junie/Julie 1980. Hê verder begrip vir die feit dat ek, tot vandag toe nog, geen idee het van hoe dit gebeur het dat ek in dié ding betrokke geraak het nie.
Dit het só gebeur.
Ek was die Tweede-in-Bevel van 4 SA Infanteriebataljon sedert die begin van daardie jaar — 1980. My fokus het niks met operasies te doen gehad nie. Ons was besig om die kompanies in 4 SAI op te lei vir hulle operasionele ontplooiing later daardie jaar. Verder was ek druk besig om my voete te vind as die Tweede-in-Bevel van die eenheid na my vier jaar by die Infanterieskool.
2.My siening van Ratels op daardie stadium.
Ek het ‘n bepaalde siening van Ratels gehad. So ongeveer twee jaar voor dié gebeure het ons, as deel van ons veggroepbevelvoerderskursus, ‘n twee weke Meg Oriëntasie kursus gedoen. Op dié kursus is daar op die basiese sake gefokus — die uitmekaar haal, skoonmaak en aanmekaarsit van die 20mm kanon,ens.
Natuurlik het ons ook lesings gekry oor gevegshantering en verwante sake. Dít was die somtotaal van my blootstelling aan Ratels.
Ek was ‘n bloed Gemotoriseerde Infanteris. Op van my heel helderste oomblikke kon ek die nut van Ratels as gepantserde en/of gewapende troepedraers insien — bitter min meer as dit. Natuurlik sou dit dalk ook kon werk in die ondersteuningstroepe van die tenkregimente.
Dat dié goed in operasies aangewend sou kon word was vir my bloot ‘n akademiese moontlikheid.
Dit was nie asof die operasionele gebied vir my ‘n vreemde plek was nie — op daardie stadium het ek, altesaam, so ongeveer twee jaar bosdiens gehad. My siening was dus nie heeltemal ‘n oningeligte een nie. Ek wil my egter haas om te sê dat daar geen blootstelling aan Ratels in dié tydperk was nie — in dié opsig was ek dus oningelig , maar die omstandighede was nie vir my vreemd nie.
As ‘n toegif, is ek genomineer om later daardie jaar (1980), die voorkursus vir die bevel-en-stafkursus te gaan doen. My trommel boeke was dus nooit vér van my af nie.
3.My aanvanklike beplanning vir Saterdag , 31 Mei 1980.
Die Springbokke speel Saterdag, 31 Mei 1980, teen die All Blacks. ‘n Paar van ons ou skoolvriende, só is daar gereël, sou dié wedstryd by ons kom kyk. Die nodige aankope is reeds gedoen. Terwyl ons nie onnodige geld daaraan spandeer het nie, het ons ook vleis gekoop — na alles, ons sou ook braai.
4.Sake neem ‘n onverwagte wending.
Só sit ek in my kantoor die Donderdagmiddag — 29 Mei 1980. Die eenheid is besig met sportparade — ons het dié saak na Donderdag verskuif om meer tyd vir veldopleiding te kon kry. Ek het my KSP klaar gedoen — dinge lyk min of meer onder beheer. Ek is besig om die volgende week se opleidingsprogramme na te gaan soos dit ‘n Tweede-in-Bevel betaam. Toe lui my telefoon en alles verander.
Kommandant Vlooi van Rooyen, hy werk toe by Direkteur Operasies in Leërhoofkwartier, sê vir my, asof dit die natuurlikste ding in die wêreld is, ek moet die volgende oggend om 06:30 op LMB Waterkloof wees. Al my vrae word beantwoord met: “Ek mag nie vir jou oor die telefoon sê nie!” My Bevelvoerder ? “Moenie worry nie, ons sal hom inlig. Ons kry hom nie nou in die hande nie.” Die heel beste wat my vrae regkry is ‘n soort van ‘n belofte dat daar iemand die volgende oggend op die lughawe sal wees om my in te lig.
5.Ek en my trommel op ‘n vlossie op pad na ‘n onbekende stemming.
Daar was niemand op die lughawe wat na my gesoek het nie. Daar is verskeie vlossies wat na verskeie plekke in die operasionele gebied vlieg — op watter een moet ek klim? Ek word deur die sekerheid- en administratiewe stelsels aangeval omrede ek nie ‘n reiswyser het nie. Na ‘n klomp frustrasie doen ‘n korporaal my ‘n guns en sê vir my dat hy dink hy het my naam op die passasierslys na Grootfontein gesien.
Omrede dit my beste inligting is, val ek in dié ry. Die trommel is ‘n groot probleem, Hoof van die Lugmag — persoonlik, moet omtrent magtiging gee dat ek dié ding op die vliegtuig kan sit. Na dié geveg is ek, my uitrusting en die trommel op die vliegtuig op pad na Grootfontein.
Om te gaan “wat” en “vir hoe lank” het ek steeds geen idee nie. Dit was nogals simpel gewees toe iemand, heel vriendelik, vir my vra waarheen ek op pad is en ek moet vir hom sê: “Ek weet nie.” Ek kon duidelik sien hy glo my nie en dink dat ek met een of ander speletjie besig is. In elk geval wou ek nie veel praat nie — netnou bedonner ek een of ander meesterplan met my pratery.
6.Grootfontein , nie vanwaar Gehasie nie , maar eerder waarheen nou Gehasie?
Op Grootfontein? Daar staan ek met my uitrusting en my trommel — alleen nadat almal weg is. Nou wat nou? Niemand soek na my nie. ‘n Paar Seiner onderoffisiere, nadat hulle my ondervra het en ook nie my “ek weet nie” storie geglo het nie, bied toe aan om my na die offisiersmenasie toe te neem.
Daar aangekom is my gebrek aan ‘n reiswyser éérs ‘n probleem —“geen reiswyser, geen akkommodasie nie.” My goed ontwikkelde sin vir humor het onder druk gekom maar ek het ‘n kamer gekry. Om met my uitrusting en die trommel in die kamer te kom, was geen geringe prestasie nie.
Daar is ek toe in die kamer. Nou wat nou? Ek glo toe steeds êrens is daar iemand wat my soek — ek moet net rustig wees. Ek gaan maak toe seker dat hulle by ontvangs duidelik van my weet en weet in watter kamer ek is — na my oorspronklike ontvangs was daar by hulle redelik duidelikheid hieroor in elk geval. Ek haal toe maar my boeke uit en gaan aan met leerwerk.
7.Die eerste moontlike leidraad.
Met aandete gaan ek toe menasie toe en gaan eet — ek was redelik honger. Nadat ek geeet het besluit ek toe om kroeg toe te gaan — dalk loop ek daar iemand raak wat my kop in ‘n rigting kan help. Daar was niemand in die kroeg wat my sinvolle advies kon gee nie. Terug op pad kamer toe loop ek Sys de Waal in die gang raak. Nee hy weet niks. As ‘n nagedagte, “dalk moet jy na 61 Meg toe gaan — ek weet nie, maar dalk…”
Ek loop toe na NLK se opskamer toe om te gaan probeer uitvind. Dit is Vrydagaand. Na ‘n paar pogings om iemand sinvols in die hande te kry om mee te praat, besluit ek om dit net so te laat en die volgende oggend weer te probeer — my sin vir humor het weer onder druk gekom.
8.Op pad na 61 Meg toe in ‘n baie vinnige “Garry”.
Saterdag, 31 Mei 1980, was vir my ‘n besondere dag.
By NLK se opskamer verneem ek dat daar ‘n MP-voertuig van 61 Meg in Grootfontein is of was — ja, hulle sal hom in die hande probeer kry, as hy nog nie weg is nie, en hom na my kamer toe stuur. Ek haal my boeke uit en gaan aan met leerwerk — wat anders kon ek doen? So teen die middel van die oggend word my kamerdeur byna afgebreek.
Daar ry ek, my uitrusting en die trommel, saam met die MP korporaal in sy “Garry” — die vinnigste een in die hele operasionele gebied — Tsumeb toe. Ek het geen idee of dit is wat ek veronderstel was om te doen nie. Ek het egter geen ander slimmer insette gekry nie.
Op pad soontoe het ek moeite om die MP Korporaal te laat verstaan dat ek sy woord summier aanvaar dat sy “Garry” die heel vinnigste een in die operasionele gebied is — ek het geen, maar geen, behoefte aan ‘n demonstrasie nie. Hy is in elk geval ‘n baie goeie toergids en, behalwe vir die duidelike tekens van ‘n goeie partytjie die vorige aand, is hy ‘n goeie drywer.
9.Burger of Botha , en maak dit regtig saak?
By 61 Meg op Tsumeb aangekom onstaan daar ‘n volskaalse soektog na die Adjudant. Na alles, dit is ‘n Saterdagmiddag.
Na so ‘n ruk kom daar ‘n Luitenant, van soorte, daar aan en sê: “Ons verwag ‘n Tweede-in-Bevel. Wat is my van — Burger? Nou ja — Burger of Botha, die teleks is dalk verkeerd. Hoe dit ookal mag wees, as ek die Tweede-in-Bevel is, moet ek deur gaan na Omuthiya toe. Almal is daar.”
10.Uiteindelik regtig op pad na Omuthiya toe.
Daar vertrek ek met my uitrusting en trommel weer saam met die MP korporaal met die vinnigste “Garry” in die operasionele gebied — Omuthiya toe.
Duidelik ken die korporaal die omgewing. Ons is sonder moeite deur die Oshivello hek. Daarna sit hy sy selfopgelegde taak as toergids voort. Hy het blykbaar tot die gevolgtrekking gekom dat dit baie nodig is dat hy my behoorlik voorlig oor wat nou eintlik hier aan die gang is. Hy praat en hy ry — hy wil terugkom op Tsumeb sodat hy nog, al is dit net ‘n deel daarvan, na die toets kan gaan kyk by vriende wat hom oorgenooi het.
11.Die vinnigste “Garry” en die stadige waterlorrie.
Ons ry in die teerpad verby die afdraaipaaie na die verskillende opleidingsbasisse van Oshivello. Ek kan nie onthou by watter afdraaipad dit was nie — dit was beslis nie die eerste een of twee nie. Daar ry ‘n waterlorrie voor ons. Met die vinnigste “Garry” in die operasionele gebied is dit net logies dat ons die waterlorrie gaan verbysteek. Toe ons skuins agter, byna langs die waterlorrie is, besluit die waterlorrie om regs af te draai na een van die opleidingsbasisse. Ek is links voor in die vinnigste “Garry” in die operasionele gebied en word toe teen ‘n bekwame spoed teen die waterlorrie vasgedruk soos wat die korporaal probeer het om die botsing te vermy — hy kon nie.
12.Die siekeboeg en die dokter(ek hoop!).
Ek het geen idee van hoe lank ons daar gelê het nie en wat alles daar gebeur het nie. Toe ek my bewussyn herwin het, was ek in ‘n ambulans op pad êrens heen. Ek is by SWA Spes uit die ambulans gehaal en is toe in die Siekeboeg — ek glo dit is waar ek was — op ‘n bed van soorte neergesit.
Na so ‘n rukkie kom daar toe ‘n persoon geklee in ‘n T-shirt en ‘n PT-broek aan — ek glo dit was ‘n dokter. Ek moet sê, behalwe vir sy kleredrag (nou ja, dit was Saterdagmiddag) was hy baie bekwaam — ek was gemaklik. Daar was ‘n gat in my voorkop en my linkeroor was byna afgeskeur — die res was net kneusplekke.
Toe die rugbytoets uitgesaai word, daar was êrens ‘n TV-stel, met die klank baie hard gestel iewers af in die gang, toe lê ek in SWA Spes se Siekeboeg en luister daarna terwyl die dokter met sy vingers onder die vel op my voorkop rondgrawe om te soek na glasskerwe. Dit was nogals heel anders as waarop ek die Donderdag nog beplan het.
In elk geval, die dokter het gedoen wat hy moes doen. Daar is maar geen manier waarop enige iemand die wonde aan my kop op ‘n wyse kon toedraai dat dit onopsigtelik sou wees nie. Die dokter was ‘n deeglike soort ou en ek het regtig erg gelyk nadat hy my wonder verbind het.
13.31 Mei 1980 – die ware feite.
Toe, wat nou? Onthou ek is oppad Omuthiya toe. Die vinnigste “Garry” in die operasio-nele gebied was nie meer diensbaar nie. Dit is laat Saterdagmiddag. Transport en drywers is ‘n probleem.
Die beste oplossing, waarskynlik op daardie stadium die enigste werkbare een, is dat die ambulans my na Omuthiya toe moet neem. So pleeg ek arrivasie by 61 Meg op Omuthiya teen skemeraand op Saterdag 31 Mei 1980 met ‘n ambulans.
Ek kon nie beter vir die geleentheid gelyk het nie. Ek het gelyk asof ek uit die oorlog kom en nie asof ek op pad daarheen is nie.
In elk geval, het almal wat my gesien het en tóé boonop verstaan het dat ek die Tweede-in-Bevel vir die operasie gaan wees, my ontberinge tot op daardie tydstip redelik humoristies gevind.