Sceptic Stories

Die dag na D-dag en die dae daarna

1.Die bevelvoerder se Ratel trap ‘n landmyn.

Die volgende dag is dit prioriteit om die echelon by ons uit te kry … hulle kom.

Ons beweeg uit die laergebied uit terwyl ons op die echelon wag.

Die: “Alle stasies, Zero het ‘n myn getrap” insident gebeur. Ek het my gat afgeskrik. Nie vir die myn nie — ek was ‘n bekwame afstand weg. Ek het dadelik aan die moontlike implikasies gedink — en nie daarvan gehou nie.

Wat toe binne Kommandant Dippenaar se gemoed aangegaan het, sal niemand weet nie.

Wat het ek ervaar? Komkommerkoel, asof niks gebeur het nie – dit is mos net ‘n pap-wiel is dit nie? — wissel Zero voertuie, is terug op die lug en gaan aan.

Ek hoor op die radionette dat die manne vér suid is nie só rustig oor dié saak nie. Ek dink nie hulle was so erg oor ons bekommerd nie , miskien meer oor Generaal Constand Viljoen wat ook in daardie voertuig was.

2.Aanvulling alweer.

Toe daag die echelon op.

As ek, of enige iemand anders gedink het die aanvulling op Eenhana was ‘n belewenis, moes jy dié een gesien het. Die voertuie was nie in rye nie — hulle was nie bymekaar nie. Ons was in elk geval nog nie regtig seker van die doelwit nie.

Hoe die Adjudant- en Onder-offisiere dié saak bedryf het, het my verstom. Hierdie groep mense het borshare gehad — omtrent so ‘n duim dik, ek bedoel elkeen van die hare.

3.Generaal Viljoen.

Generaal Viljoen was orals. Ek weet nie of die troepe regtig geweet het wat hulle besig was om te beleef nie.

Die “Baas” was nie êrens in “Pretoria” nie — hy was by ons op die doelwit. Ek weet dat baie offisiere dié soort saak anders beleef het — sien, in dié opsig was Operasie Sceptic nie uniek nie.

Hoe het ék dit beleef? Doodeenvoudig – iets moers. Ek dink ek was oud genoeg om die implikasies te verstaan . Hoof van die Leër het ons genoeg vertrou om saam met ons te gaan — deur alles, ek bedoel alles, sonder om bevel oor te neem.

Dit het nuwe betekenis aan die uitdrukking gegee: “Moenie op die doelwit ronddonner nie.”

Generaal, baie dankie vir hoe u dit gedoen het en dat u ons vertrou het.

4. Diesel marinade.

Op ‘n stadium deur die aanvulling, twee konneksies het nie reg gewerk nie, brandstof is kosbaar, het ek dit reggekry om my stewels en broek vol diesel te kry.

Die broek was OK — ek het nog een gehad — die stewels was nie.

Ek is met dié stewels deur die res van die operasie — dit was ‘n plesier om hulle op die vroegste moontlike tyd, na die operasie, soos dit gebeur het terug in Middelburg, in die asblik te gooi.

5.Opruiming van die doelwit.

Toe ruim ons die doelwit op.

Toe erf ons uitrusting en gemors vir “Afrika, Taiwan en Tibet.”

Dié uitrusting word deur die Inligtingspersoneel verdeel in 2 groepe , dit wat saamgaan en dit wat bly. Dit wat saamgaan is baie. Dít word verdeel in “dringend” wat beteken afvoer per lug en “nie dringend” wat beteken afvoer per grond — ons gaan dit terug ry. ‘n Berg toerusting gaan per lug terug.

6.Landingstrook vir die helikopters.

‘n Baie eenvoudige opdrag van die Bevelvoerder: “Kry ‘n landing-strook vir die choppers reg.”

Hoe sê die handboek nou weer — hoe lyk só ‘n landingstrook? O ja — nou onthou ek weer. Bliksem — tot daar? En, al dié groot bome?

Anders as ‘n kompanie bevelvoerder het ‘n Tweede-in-Bevel nie troepe onder sy bevel nie. Toe maak ons die landingstrook met ‘n Ferrit — kan jy glo hy het op die doelwit aangekom?

Toe word die goed uitgevlieg. Die res word deur die echelon gelaai.

Terug Mulemba toe.

7.Ek verstaan Meg al hoe beter.

Ek begin toe al so ‘n bietjie van Meg verstaan.

As ‘n Mot infanteris ‘n probleem kry, gaan hy dadelik grond toe en kyk wat aangaan.

As ‘n Meg infanteris ‘n probleem kry, begin hy ry en sorteer sy moeilikheid so in die ry uit. In baie gevalle ry hy vir sy moeilikheid weg en ervaar hy dan geen moeilikheid meer nie.

8.Die Tiffie towenaars.

Op pad terug Mulemba toe, kry my voertuig ‘n probleem — dit verloor krag. Ons praat oor die radio en wag vir die Tiffies.

Ek weet nie waarvan ek praat nie — dit het iets met ‘n ding soos tydratte te doen, maak dít vir iemand sin? Ek sweer my karre by die huis het nie sulke goed in nie — as hulle het, het ek nog nooit daarvan gehoor nie.

Ek en die bemanning — hoofsaaklik ek en die drywer — verskuif die spaar-wiel, dié een waarvoor ek uiters dankbaar was op pad vanaf Eenhana na Mulemba toe — van die luike bo-op die masjien af sodat die masjien kan oop wees.

Dit is nie maklik nie. Die wiel is swaar. Die spasie is min. As die wiel van die Ratel sou afval — is dit ‘n totale gemors. Hy moet bo bly en geskuif word.

Toe kom Stafsersant van Aswegen aan — ek glo ek het sy naam reg. Soos wat Tiffies uit dié era kom — ras eg geteël.

Daardie masjien is so warm dat ons eiers op die dekselplate kon bak — vergeet nog van naby die masjien self. Hy skuif in daardie vuurwarm masjienkompartement in. Hy het alles by hom wat hy nodig het — waar hy dit gedra het en hoe hy geweet het wat hy nodig het, verstom my. Hy is ‘n hoender-met-tande.

As ek ooit aan Tiffies dink — dink ek aan daardie Stafsersant — hy is my “bench-mark” van hoe effektief ons Tiffies was.

So, terwyl hy in daardie moerse warm plek werk, vra hy wie die drywer is?

My drywer staan en kyk en luister. Ek verstaan dit nie. Sê die Stafsersant vir die drywer: “Jy het nie dít nie … jy het nie dát nie … ek sien jou in die laer vanaand.”

Staf, waar jy ookal nou mag wees, moerse! Daai perd had ballas.

My Ratel was daardie nag op volle sterkte sonder dat ons na julle gesoek het.

9.BAG – Brigade Administratiewe Gebied.

Toe kom ons terug op Mulemba.

Dit was aaklig — daar was gewoon nie genoeg water nie.

Ek glo vir goeie redes, ek sal hom nooit andersins kwalik neem nie, los my bevelvoerder my in die Brigade Administratiewe Gebied (BAG) op Mulemba, terwyl hy en die vegters op ‘n gebiedsoperasie gaan.

Wat onthou ek van die BAG? Die geen water, die los sand omdat ek uit my voertuig nie met die veggroep kon praat nie moes ek ± 100 meter deur die sand worstel om by die opskamer uit te kom , die choppers wat opstyg en land en alles onder ‘n dik laag sand begrawe.

Ja, toe was dit nie lekker nie.

Ek sit basies met die “kokke, kakke, klerke en stoormanne” van die veggroep onder “Piet Graspol” se bevel — hy was die MMWC in die BAG.

Dít was nie maklik nie.

Toe keer die vegters terug.

Toe, doodluiters, sê my bevelvoerder vir my: “Jy het die veggroep. Ek sien jou op Ondangwa. Tweede-in-Bevels, op alle vlakke, vat die veggroep terug. “