Sceptic Stories

Die beweging na die doelwit toe.

1.Ons begin beweeg.

Dit is Saterdagoggend — 7 Junie 1980. Ons vertrek vanaf Omuthiya.

Soos dit nou maar gedoen word is die veggroephoofkwartier verdeel. My Ratel — duidelik gemerk 0A (Zero Alpha) — beweeg relatief agter in die konvooi, saam met ‘n paar ander tweede span voertuie van die hoofkwartier. Ons is in die omgewing van vegspan 20 — Kaptein Louis Harmse is die bevelvoerder van vegspan 20 — hy was ‘n baie bekwame offisier. Die “tyd-verby-punt” van die konvooi is relatief lank, ek kan nie meer onthou hoe lank nie, maar dit was lank.

2.Praktiese Meg orientasie vir ‘n Mot infanteris.

Met my splinternuwe Ratel en bemanning sorteer ons onsself uit. Wie doen wat en wanneer? My ervaring is my Meg oriëntasiekursus twee jaar vantevore — die hele twee weke van dit. My bemanning is heelwat meer tuis in die “Ratelhuis” as ek. Net voor ons vertrek, ek bedoel minute, vra die drywer — ek het skandelik nou al sy naam/van vergeet — vir my waar my eetgerei is.

As ‘n gemotoriseerde infanteris, het ek al lankal van die fire bucket ontslae geraak in my uitrusting — tussen die waterbottel en my dixies is ek gemaklik. Natuurlik sal vele van my verskil — dit is hulle reg soos dit myne is. Skielik het ek nie ‘n drink ding nie. Ek hoef dit in elk geval nie te dra nie. Ek gee my dixies vir die drywer.
Hy vra: “Majoor, waaruit gaan jy koffie drink?”
Ek sê: “Wag.”
Ek hardloop in die menasie in en gryp ‘n gewone Army wit menasie koppie — almal van ons weet waarvan ek praat.

Toe ek dit vir my drywer gee, het ek in sy gesig gesien dat hy dít nie kan glo nie. Daar was in elk geval nie tyd vir debat nie , ons moes ry. Toe ry ons.

3.Maatjie vir ‘n praatjie?

My bemanning , ons , sou opleiding doen tydens die beweging. Ons hét.

Vir dié wat nie weet nie: Op ‘n veggroepbevelvoerder, en dus ook op sy Tweede-in-Bevel, se ore hardloop daar ten minste vyf radionette in — twee op die een oor en drie op die ander oor. Hierdie goed word beheer deur — my woord — ‘n “confusion box” wat om sy nek hang met ‘n A-B-C verstelling wat die verskillende radionette, aandui waarop jy op daardie stadium praat as jy die drukskakelaar druk. Die res van die radionette bly jy in elk geval hoor.

Terwyl ons aan die beweeg was, tot my bemanning en die res van die veggroep se matelose frustrasie, het ek die regte berigte op die verkeerde kanale gestuur.

Ek onthou tot vandag toe nog vir majoor Paul Fouché — bevelvoerder van vegspan 10 , se besadigde :“Zero Alpha, your are in the wrong box !” terwyl ek een of ander klein dingetjie in my Ratel wou uitsorteer. Vir my was dit nie maklik nie. Later het dit ‘n bietjie beter gegaan toe ek daaraan gewoond geraak het.

4.So trek ‘n veggroep laer.

Ons het die laatmiddag/aand — Saterdag, 7 Junie 1980 — laer getrek, ek dink, in die Oshifitu-omgewing.

Hierdie oefening was vir my ‘n skrikwekkende ervaring. Ek kon duidelik sien dat almal van my verwag om iets belangriks te doen — ek het net nie geweet wat nie. Die groep mense was blykbaar té ordentlik om druk op my te sit.

Die veggroep het, ten spyte van my afwesigheid, in elk geval deur hulle drils gegaan. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek dié dril prakties op die grond sien gebeur het. Wat ons tóé ingeneem het, het geen verband gehou met ‘n mot infanterie tydelike basis nie.

Toe ek daardie aand in my slaapsak klim het ek só ontoereikend gevoel dat ek kon skreeu. Ek het my bevelvoerder jammer begin kry en gewonder of ek nie maar moes “Nee” gesê het nie. Dít was in elk geval tóé te laat.

My bevelvoerder het dié, en ‘n hele paar ander leemtes in my mondering as sy Tweede-in-Bevel, vir die duur van die hele operasie maar hanteer — soms meer geduldig as ander kere.

5.My eerste aanvulling.

Die volgende oggend — Sondag, 8 Junie 1980 — begin ons ry Eenhana toe. Ek het so iets in my lewe nog nie gesien nie.

Spoed is belangrik en hierdie — verskoon tog die taal — “moerse” gevegsmag beweeg met uiters bekwame spoed, in kohesie, op “Oom Willie” se pad en ander paaie. Dit gaan net aan en aan. Oor die radionette is daar totale stilte. Daar word nie gestop nie, wat jy wil doen, doen jy óf in die voertuig of glad nie. Ons dek dié afstand heelwat vinniger as infanterie te voet — ek moet dít erken, maar doen dit met ‘n swaar gemoed.

Skemeraand op Sondag, 8 Junie 1980, trek die veggroep by die aanvulpunt by Eenhana in.
Die bevelvoerder is saaklik: “Is jy hier? OK, sorg vir die aanvulling.”

Hoeveel van ons ou manne het gesien hoe lyk dit as ‘n veggroep van ± 150 voertuie, in die donker, by Lappiespompe aanvulling doen? Dan moet jy onthou, die pantserkarre, en ‘n paar ander voertuie, moet in die petrollyn inval en nie in die diesellyn nie. Die drywers se gatte is lam want hulle is agter die stuur van vroeg dag af en wil gaan slaap — hulle weet wat voorlê. Vir die manne by die aanvulpunt is dié hulle groot geleentheid.

Dan is daar nog kamoefleernette en paploopwiele wat ontvang en versprei moet word.

Ek was baie, baie besig. Gelukkig het ek 61 Meg se span gehad, wat die werk verstaan het om my te help. Dit was ook die eerste keer dat ek dié soort ding op die grond sien gebeur. Ek het gedink dat dit relatief goed afgeloop het — maar hoe sal ek weet, ek het niks gehad om dit teen te vergelyk nie?

6.Die helikopterbrandstof waarna almal so gesoek het.

Net hier het ‘n probleem ontstaan, waarvan niemand tóé bewus geword het nie, wat ‘n dag of wat later ‘n groot impak op die operasie sou hê. Ek wil graag hieroor ‘n bietjie uitwei om enige misverstande uit die weg te ruim. Ek is nie op die verdediging hieroor nie — ek sê bloot hoe dit gebeur het.

Ek het die situasie later aan Generaal Badenhorst verduidelik. Dit het gegaan oor die brandstof vir die helikopters wat na die Brigade Administratiewe Gebied (BAG) by Mulemba — verskuif moes word. Na die aanvanklike aanvalle op die doelwit(te) sou die Valskermtroepe as afsny-/stoppergroepe ontplooi word aan die westelike kant van die doelwit(te). Vir hulle ontplooiing was dit noodsaaklik dat daar voldoende helikopter-brandstof in die BAG beskikbaar sou wees.

‘n Deel van die valskermtroepe — Kapt Mac Alexander — was wel by ons veggroep ingedeel. Die bevelsaffiliasie was “Onder Operasionele Bevel vir die Spesifieke Fase.” Na die inoefeninge was hulle verskuif na Ondangwa en sou daarvandaan ontplooi word vir die spesifieke fase.

Gedurende die voorafgaande week — ek moet eerlik sê ek kan nie meer onthou wanneer en hoe nie — is ek ingelig dat ‘n element van Sektor 10 Onderhoudseenheid op Eenhana by ons sou aansluit en vandaar saam met ons veggroep sou beweeg. Ek het nie gevra wat dié element sou behels nie. Ek het wel gevra wat die bevelsaffiliasie sou wees?

Die antwoord wat ek gekry het was “Onder Operasionele Bevel vir Beweging” — dit is dan ook só in die opsinstruksie ingesluit. Onthou net wat die dokrine hieroor sê. In wese kom dit daarop neer dat hulle slegs saam met ons moes beweeg. Ons veggroep het geen ander verantwoordelikheid teenoor dié saak gehad nie.

By die aanvulpunt op Eenhana, terwyl ek ‘n baie besige mensie was, het ‘n stafsersant van Sektor 10 Onderhoudseenheid by my aangekom. Dít het presies gestrook met al die insette wat ek oor dié aangeleentheid gehad het. Ek het dié stafsersant en ons echelonbevelvoerder, AO1 Barnard — die RSM, bymekaar uitgebring en dié saak as afgehandel beskou.

Dit was eers heelwat later, in werklikheid eers redelik onlangs, dat ek begin het om ‘n verband te trek tussen daardie stafsersant en die episode van die helikopter-brandstof.

Na al die jare, kan ek steeds sê: My gewete oor dié saak is skoon. Behalwe dat dié element van Sektor 10 Onderhoudseenheid ‘n plek in ons echelon om te ry aangewys moes word, het ons veggroep geen ander verpliging teenoor hulle gehad nie. Ons het beslis nie enige verpligting teenoor die stigting van ‘n helikopterbrand-stofaanvullingspunt in die BAG gehad nie.

Episode — afgehandel.

7.Die voet is uit , die wiel is in.

Dit is nag — Sondag/Maandag — 8/9 Junie 1980.

Ons begin beweeg en verstaan dat ons op pad is — waarheen en wat gaan ons kry? Daar is ‘n groot verskil tussen die kaartbeplanning en die realiteit op die grond in so ‘n beweging.

Die eenheid se seinoffisier was in my voertuig — dit help my niks. Ek self het radiostilte in die opsinstruksies ingeskryf. Daar gaan niks op die radionette aan nie.

Dit kom neer op – volg die voertuig voor jou.

Vir my as ‘n mot infanteris, wat teen “loopspoed” dink, is hierdie beweging ‘n volgende skrikwekkende ervaring. Naderhand, besef ek, ek het hulp nodig anders gaan ek uitmekaarval. Ek bid toe. Toe raak ek rustig.

In die beweging maak die bemanning kos warm in die voertuig. As ek enige spanning ervaar is my eetlus die tweede ding was summier vertrek. Ek het nie geeet nie maar donners seker gemaak dat ons drywer, sovér dit prakties haalbaar was, bedien word met wat hy wou hê.

8.Hoog in die takke en effens deur die blare.

Op ‘n stadium gedurende die nag het ek ‘n verskriklike dom ding gedoen.

Ons het met al die Ratel se luike toe beweeg — dit was gewoon prakties om gemors uit die voertuig te hou. Ek het benoud geraak en besluit om my luik oop te maak. Met my normale lengte het ek dadelik ‘n probleem met die standaardverstellings van my stoel ervaar — die een was té laag, die volgende een net té hoog, dws ‘n groot deel van my liggaam was buite die voertuig. Ek het met dié verstellings ‘n ruk lank gestoei en toe besluit ek gaan vir die hoër verstelling.

Dit was doodstil in ons voertuig — behalwe vir die drywer en ek, het die res geslaap, soos dit hulle betaam het. Ek staan toe halflyf uit die voertuig uit — soos Rommel in Noord-Afrika.

Ek sê nie vir die drywer nie en hy is, omdat ons tóé in baie dik sand is, baie besig met sy hooftaak — om die voertuig voor hom te volg. Ek is gemaklik in die vars lug. Buitendien, ek kan mos kyk wat aankom en terugduik in die voertuig in as dit regtig nodig is. Dit gaan goed en ek is gemaklik — doen ‘n paar duikslae, só ek weet dit werk.

Op ‘n stadium kyk ek agtertoe om te sien of ek die voertuig agter ons kan sien — ‘n byna fatale fout! Juis op daardie stadium — onthou my “loopspoedprobleem”? — gaan ons voertuig onder ‘n dwarstak van ‘n groot boom deur. Die tak is net hoër as die voertuig.

Ek word uit die toring gehaal — maande daarna nog blou, later groen, kolle op my middelrif gehad. Die individu, of span, wat besluit het om die Ratel se spaarwiel op die masjien se luik te sit — baie dankie! Na die skok van die tak bevind ek myself, gelukkig, teen die spaarwiel.

My kopstuk en ek is egter nie bymekaar nie — die tak het ons geskei. Daar is nie ‘n manier waarop ek vir enige iemand van my dilemma kan vertel nie. Ons drywer doen wat hy opgelei is om te doen en wat sy opdrag sê — volg die voertuig voor hom teen beste spoed. En ek? Ek hou die takke deeglik dop en kruip terug na my luik, herwin my kopstuk, dankie weereens aan dié mense wat dié goed gemaak het, en is bitter ongelukkig oor die voorval met my drywer. Hy wIs van geen sout of water nie en verstaan nie waaroor ek kwaad is nie.

Toe maak ek my luik toe.

9.Aankoms by Mulemba.

Ruim voor eerstelig kom ons op Mulemba aan.

Dit was uiters goeie vordering oor ‘n afstand van ± 120 kilometer vir ‘n mag van ons grootte. Laat ek bieg- dit het my gerusgestel om te geweet het dat die mot infanterie reeds dié gebied beveilig het.

Verder, laat ek net eers die “ons” verduidelik. Dit was eintlik net die Ratel element van die Veggroep en die Noddy karre wat eerste op Mulemba aangekom het . Die echelon was oor baie kilometers verprei maar op pad sovér ek in ‘n radiostilte situasie kon aflei. Dit was eintlik ‘n situasie van wag en sien wat kom hier aan. Vir ons bevelselement was dit ‘n bietjie van ‘n uitdaging — wat gaan ons hê wanneer ons hiervandaan gaan vertrek?

Ek het gewonder oor hoe my bevelvoerder dié situasie ervaar het. Die keer of wat, wat ek hom op daardie stadium gesien het, was hy heel rustig. Ek sou nie kon wees nie — daaroor het daar by my geen twyfel bestaan nie. Die staftoetse het duidelik aangetoon dat dié situasie, in alle waarskynlikheid, sou ontstaan.

Kommandant Anton van Graan was die perfekte gasheer — hy en sy mense het die gebied vooraf beveilig en, soos ons elemente aangemeld het, hulle hulle plekke toegewys.

Ons het die stukkie van die nag, wat daarvan oor was, gerus. Nadat ek seker gemaak het dat ons drywer so gemaklik as moontlik was, het ek ook gedut terwyl Kommandant van Graan en sy mense die res van die veggroep ontvang en uitgeplaas het.

Toe slaap ons — ‘n bietjie. Dit was die nag van Sondag/Maandag — 9/10 Junie 1980 — of dít wat daarvan oor was.