Sceptic Stories

10 Junie 1980

1.Opstaan , dit is tyd om te gaan.

Vroeg daardie oggend, of laat ek eerder sê , kort nadat ons tot ruste gekom het, word ons wakker gemaak en begin die beweging na die doelwit toe.

2.Woorde van bemoediging.

Elke voertuig kry ‘n koevert waarin daar ‘n aantal boekmerke met woorde van bemoediging is — genoeg boekmerke sodat elke lid van die bemanning een kry. Behalwe om te bevestig dat ek en my bemanning dit baie waardeer het, gaan ek niks verder daaroor sê nie. Dít is my bevelvoerder se storie. Baie dankie Kommandant! Die feit dat ek vandag nog my afskrif het , sê dat dit tóé baie waardeer is en hoeveel waarde vandag steeds daaraan geheg word.

3.Verduideliking.

Ek wil net aan die begin van my vertelling oor 10 Junie 1980 dit baie duidelik stel en daaroor moet daar geen misverstande wees nie . Ek sê goed soms op ‘n lighartige manier, en praat oor sekere sake in plaas van ander, glad nie oor ek daaroor ligsinning wil en kan wees nie. Ons het makkers op daardie doelwit verloor en dit is na al die jare vir my nog te seer om vryelik daaroor te praat. Waarskynlik sal ek óf dood of seniel wees voor ek dáárvoor gereed is.

4.Dapper soldate.

Weet net dit , ek was daardie dag in ‘n situasie met ‘n groep mense wat duidelik nie net baie goed opgelei en aangevoer was nie, maar ook baie, baie dapper was.

Ek het voorheen van die jong vlieënier met die Brahmaanballas gepraat.

Die troepe van 61 Meg, daardie dag, was in die olifantbulliga — een van daardie ou moerse groot bulle, nie ‘n jongetjie nie!

Dankie dat ek die voorreg gehad het om julle te sien en te beleef onder daardie omstandighede. Niemand sal ooit in my teenwoordigheid van julle twak praat nie.

5.Wat le vir ons voor?

Ons ry toe die oggend uit Mulemba uit.

Ek beweeg in die kolonne , soos die handboek sê, weg van my Bevelvoerder af, redelik agter in die veggroep.

Dit is nog donker. Radiostilte. Ons ry, en ry, en ry.

Wat wag vandag op ons? Sal Ina en die kinders OK wees as ek nie terugkom nie? Sal ek aan die verwagtinge voldoen? Ek wonder , en wonder en bid.

6.Koffie in die beweging.
Toe dit lig word, begin die bemanning agter in die voertuig in die ry koffie maak. Die regop hou van die gasstofie en die ketel raak ‘n uitdaging — ek sal nie ‘n brand in die voertuig waardeer nie — maar ek is só lus vir koffie dat ek toelaat dat dit gebeur.

Op ‘n stadium gee iemand van agteraf, nadat die drywer sy koffie gekry het, my koffie vir my. In my wit Army menasie koppie. Dít was één van die min kere wat ek ‘n “fire bucket” ernstig gemis het.

In ‘n redelik kort tydjie is die bietjie koffie in. Ek kyk terug in die voertuig in — sien niemand wat aan my enige aandag wil skenk nie. Hulle is besig om óf hulle koffie te drink of om goed weg te pak. Ek wil nie lastig wees nie maar wat maak ek met die verdomde koppie?

7.My wit menasie koppie kry ‘n tuiste.

Ek weet as hy breek het ek ‘n probleem later — dit is min, maar ten minste iets. Ek wil nie die kans waag om op die “confusion box” te praat en dalk radiostilte te verbreek nie. Toe sien ek die toring het ‘n rim. Ek pas die koppie daarop — dit was waarskynlik deel van die oorspronklike spesifikasies vir die Ratel. ’n Wit Army koppie moet op die rim kan pas.

Ek sit die koppie neer en maak seker dat dit stewig staan — dit doen. Ek sal dit later vir iemand gee om weg te pak.

8.Ek soek naarstigtelik na my wit menasie koppie.

Die volgende oggend , nadat ons die vorige dag oorlog gemaak het , en terwyl ons vol emosie was oor die gebeure op die doelwit en in omstandighede wat nie té wel was nie, vra die drywer vir my waar my drinkding is — sien, ons is tóé al lankal verby die “lyfbediende vir offisiere” stadium.

Die keuse is heel eenvoudig: Gee vir hom jou drinkding of jy kry nie koffie nie — nie dat ek vir een oomblik geglo het dat ek nie koffie sou kry nie, ons was tóé al darem ‘n span.

Ek soek my drinkding want ek is baie lus vir koffie — nóú.

Die drywer en die res van die bemanning het in elk geval baie werk om te doen — daar was skade aan ons Ratel.

Soos my Ma ons geleer het, nie dat dit noodwendig altyd suksesvol was en is nie, vra ek vir myself af wanneer ek dié ding laas gesien en hanteer het — daar het heelwat goed met my gebeur sedert ek laas koffie gedrink het. Na ‘n ruk, terwyl ek alternatiewe planne vir ‘n drinkding begin oorweeg het , onthou ek dat ek die koppie die vorige dag in die toring in veilige bewaring geplaas het. Miskien is dit nog daar ?

Nie dat ek ooit geglo het dat dit moontlik was nie, nie na gistermiddag en —aand nie, maar ek gaan kyk in elk geval.

Dáár kry ek my koppie. Presies soos ek hom die vorige oggend neergesit het. Regop en heel. Die koppie was vol patroondoppies, blare en ander gemors. Dit was vuil maar heel en diensbaar.

Ek het daardie oggend, en gedurende die res van die operasie, uit daardie koppie my koffie gedrink.

9.Die klandistiene terugplaas van die koppie in die menasie.

Tipies, soos ons in daardie tyd opgelei was, het ek dié spesifieke koppie skelm gaan terugsit sit op die rak in die menasie vanwaar ek dit oorspronklik bevry het vir afgedeelde diens , nadat ek seker gemaak het dat dit behoorlik skoon is. Ek wil nie vir tekorte verantwoordelik wees met die volgende voorraadopname nie en ek het dit mos nie nou meer nodig nie.

As ek dáárdie koppie nou nog gehad het, sou dit die sentrale plek in my kroeg by my huis ingeneem het — bokant baie ander goed.

10.My herinneringe aan die doelwit.

Die doelwit?

Ek is terug op skimbeelde — dit wat ek bereid is om na 29 jaar te deel. Dít, sê niks van wat daar gebeur het nie , maar hier is ‘n paar grepe wat ek kan onthou:

  • My bevelvoerder , kommandant Dippenaar , se rustige stemtoon oor die radio terwyl ek weet hy is ‘n baie besige mens onder die omstandighede. Dankie Kommandant!
  • Daar mag versagtende omstandighede wees , maar ek was op die verkeerde plek toe ons die doelwit slaan — nie dat daar enige inoefeninge voor die tyd was waar ek op die regte plek was nie. Ek het met die inoefeninge agter in die bevelvoerder se Ratel gery en my ontplooiing het ‘n keer of wat verander. Ek wil dit egter hier katagories stel , ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir dié fout wat ek gemaak het.
  • Soos ek dit tóé verstaan het, is die Tweede-in-Bevel eintlik die logistieke offisier van die veggroep. Tot vandag toe nog kry ek my bevelvoerder jammer. Dankie Kommandant — jammer vir my foute.
  • Ek het geweet dat die Noddy karre (Eland pantserkarre) omtrent op die die doelwit nie meer genoeg brandstof sou he nie. Ek het op die radionette, nadat radiostilte verbreek is, besef dat ons spoedig aanvulling sou moes kry om die kanonne op hierdie voertuie ten volle te kon benut — die staftoetse het dit gewys.
  • Ek het dus, terwyl ek later besef het dat dit ‘n fout van my kant af was, my volle aandag aan die vordering van die echelon geskenk. Omrede my drywer gewoond was, van Omuthiya af, om saam met vegspan 20 te beweeg, het hy só gemaak — ek wil dit weereens katagories stel dat dit nie sy skuld was nie — net myne.

As ‘n jong offisier het ek met ondersteuningswapens — mortiere, Vickers masjiengewere en tenkafweer — te doene gekry. Nooit, ooit in my lewe sal ek sê dat ek dit bemeester het nie, maar ek het ietwat van mortiere geweet na ‘n paar jaar se harde leerskool en baie bomme terwyl ek by 5 SA Infanteriebataljon was — ek was tóé ‘n bitter jong kaptein.
Mortierskiet werk min of meer soos fietsry. As jy dit een keer gedoen het, kan jy. Die verskil is egter om dit werklik te kan doen , moet jy “hands on “ wees en jy moet jou mense en die pype ken. Dankie Snakes!!!

Omdat my bevelvoerder verstaan het dat daar ‘n vuurkrag probleem kon ontstaan, het hy my aangesê om by die mortierpeloton, naby die doelwit, aan te sluit. Ek was nie dáár nie. Ek weet tot vandag toe nog nie of dit ‘n verskil sou gemaak het nie.

Toe die mortiergroep na hulle grondplaatstellings inbeweeg het, was hulle die eerste van die hele veggroep wat kontak met die vyand gemaak het. Ek glo my feite is korrek. Dit mag egter ook ietwat verkeerd wees — die stukkie van die eerste of nie. Hoe dit dan nou ook al mag gewees het — hulle grondplaatstellings was ‘n baie besige plek.

Op ‘n kritieke tydstip was daar ‘n probleem met kaptein Louis Harmse van Bravo kompanie se voertuig. Ek was heel gemaklik dat hy my Ratel kon oorneem en aangaan met die geveg — onthou my agtergrond, ek het dié soort ding nog nooit in my lewe gedoen nie en het geweet hy is ‘n ervare Meg infanteris.

Natuurlik was daar toe die probleem van die radio nette. My voertuig was gewoon nie gerat om op sy vegspannet te praat nie. Hy het toe ‘n ander plan gemaak.

  • Die storing op my 20 mm kanon …
  • Die Ratel wat gebrand het …
  • Die Pantserkarre wat uit brandstof was wat ons gehak en gesleep het …
  • Toe ons noord-suid in die donga afbeweeg, na donker, en besef dat die 23mm’s kan nie genoeg domp om ons in die hande te kry nie …
  • Die papwiel op my voertuig …
  • Die helikopters wat ten spyte van ‘n baie onrustige situasie, inkom, land, laai en vertrek … baie dankie manne … ek weet ek is nie só dapper nie.
  • Die stilte in die laer daardie aand … terwyl ons weet ons is nie meer almal daar nie…