Teen insurgensie operasies in 1979
Luitenant Ockert Swanepoel, die eerste Inligtingsoffisier van 61 Meg Bn Gp gedurende 1979 en 1980 bespreek Teen Insurgensie in die blanke boerdery gemeenskap van Tsumeb, Grootfontein en Otavi.
Dit het begin toe die eerste groep van 30 terroriste die rustige boerderye gebied suid van die kaplyngrens met Ovamboland binnegedring het. Sedert die begin van terroriste bedrywighede in 1966 was die moorde op die Roodt en Friederich-families van 4 Mei 1979 ‘n groot skok vir die gemeenskap en moes 61 Meg wat voorberei het vir konvensionele operasies
Dit was Operasie Awake — die oornag oorskakeling na Teen-insurgensie operasies.(TEIN Ops)
Doel
Hierdie skrywe het ten doel om die teen-insurgensie rol van 61 Meg Bn Gp in die noordelike plaasgebiede in die driehoek gevorm deur die dorpe Tsumeb/Otavi/Grootfontein van die destydse SWA uit te lig.
Vyand
Gedurende die periode 1979/80 het SWAPO die besluit geneem om hul operasies uit te brei na die noordelike plaasgebiede van SWA en spesifiek die Tsumeb/Grootfontein/Otavi gebiede.
Die SWAPO-element wat hiervoor getaak was, was die goedopgeleide en vasberade Special Unit/Tyfoon magte van SWAPO.
Hierdie mag was ‘n “detachment” (ongeveer Kompanie) sterkte en was onder aanvoering van Danger, wat ‘n bekende en gerespekteerde SWAPO-bevelvoerder was.
Die infiltrasie het saamgeval met die jaarlikse migrasie van Ovambo-beestroppe na Oos-Ovambo (weiding en water) waartydens Tyfoon magte hierdie migrasie gebruik het om hul spore te verberg, ten einde veiligheidsmagte (VM) se opvolgoperasies so moeilik moontlik te maak.
Die Eie Magte
61 Meg Bn Gp was die SA Leer se reserwe mag by die opleidingsterein te Oshivello. 61 Meg se hoofkwartier en basis was by Omuthiya ongeveer 20 kilometer noord van Oshivello-hek. Die bevelvoerder en voltydse leier-element het op Oshikati, waar Sektor 10 se hoofkwartier was, gewoon.
Die insident van 4 Mei het ook vir die 61 Meg hoofkwartier as ‘n skok gekom want behalwe dat die fokus van konvensionele reaksie mag na die van teen-insurgensiemag in die gebied Tsumeb, Otavi en Grootfontein moes oorskakel, moes die hoofkwartier-staf ook na Tsumeb verhuis en ‘n Taktiese Hoofkwartier wat onmiddellik bevel neem van Operasie Awake daar vestig. Operasie Awake was verder onder bevel van Sektor 30 en die verantwoordelik vir TEIN-Ops was gesamentlik met die Kommando-magte van die drie dorpe.
61 Meg Bn Gp se samestelling op hierdie stadium was soos volg:
3 x Meg Kompanies (Ratel 20/60/)
1 x Pantser Eskadron (Eland Pantser karre)
1 x Art Battery (G3 kanonne)
Ondersteuningselemente
In gebied van operasies was die drie kommandos van Tsumeb, Grootfontein en Otavi. Die SAP en SAP en die belangrikste die boere en burgerlike bevolking wat ingesluit het die myn bedrywighede te Tsumeb en Kombat.
Die SALM (Lugmag) was toegevoeg met ‘n bevelselement en ‘n lugpoging wat gewissel het maar meestal bestaan het uit Puma en Alouette helikopters, Bosbok verkenningsvliegtuie en per geleentheid ‘n Kudu ligte vliegtuig.
Met tye is daar ander magte toegevoeg soos die motorfiets-element van SWA spesmagte, spoorsnyvermoë vanaf 31 Bn (Boesmans) Koevoet, 5 Verkennings Regiment (Spesmagte), spoor/patrollie honde en so meer.
Interessante navorsing is ook gedoen tydens die operasie ten einde SWAPO kommunikasie metodes vas te stel (Parabole-luister na jakkals en dieregeluide)
Terrein en bevolking
Die gebied waarin hierdie TEIN-operasie gevoer is, het ingesluit die Tsumeb/Otavi/Grootfontein plaasgebiede asook die gebied onmiddellik noord daarvan, te wete die Mangetti-strook.
Die Mangetti-strook was ‘n kwarantynstrook tussen Oos-Ovambo en die noordelike plaasgebied ten doel om bek-en-klouseer hok te slaan. Die gebied was goed georganiseer met sandpaadjies, kaplyne, kampe, waterpunte en draadheinings en daar is hoofsaaklik met bees geboer. Daar was dan ook ‘n plaaseienaar, sy gesin en werkers. Die myn-bedryf met groot kampongs vir werkers in die swart woongebiede was ‘n ander belangrike faktor.
Die noordelike plaasgebiede was dig bewoon en die boere was grootliks by kommando’s en boereverenigings betrokke, waardeur hulle maklik bereikbaar was in terme van kommunikasie en organisering. Die verhouding tussen boere en plaaswerkers was goed en grootliks eie magte goedgesind.
Die terrein ten noorde van Tsumeb was besonder moeilik vir opvolgoperasies deurdat die grond hoofsaaklik uit kalkkreet bestaan het en sekelbos wat moeilik deurdringbaar was, dit was alomteenwoordig.
Daar was goeie telefoonverbindings en ‘n kommando/Marnet radio netwerk onder kommando- en Boere verenigingslede.
Alhoewel talle boere en ander lede van die publiek ‘n besondere rol gespeel het, val die naam van die Van der Westhuizens besonder op deur hul betrokkenheid by Tsumebkommando. Oom Danie van der Westhuizen was in beheer van die Tsumeb kommandospoorsnyers wat bestaan het uit Boesmans (Jan Kakkas en sy groep) wat op die plaas (Koedoesvlei) gebly het, terwyl Tannie Pompie ‘n radio netwerk bedryf het wat merkwaardig was, en tot talle kommunikasieloses/verdwaaldes en verlorenes se redding gekom het.
Die gebied was ook goed bedien met hoofsaaklik kalkkreet/grondpaaie.
Operasionele ontwerp
Op Awake se plan was opgedeel in drie fases waartydens elke fase ‘n spesifieke voorbereiding en optrede gehad het.
Fase 1
Tydens Fase 1 is aanduidings ontvang van die infiltrasie. Hierdie aanduidinge was meestal gegrond op radio-onderskeppings, – rigtingpeiling en ondervraging van vyandelike lede . VM was ook voorberei omdat hierdie infiltrasie — soos later ervaar — in ‘n spesifieke tyd van die jaar gebeur het.
Hierdie informasie is dan gekommunikeer na alle belanghebbende VM elemente, kommando’s, boere verenigings, ens dmv vergaderings, die kommando strukture, ens ten einde toepaslike voorbereidings te tref. Die aktiewe patrolering van die kaplyn insluitende uitkyktorings met lang-afstand verkykers en nagsig uitrusting is vir waarneming dag en nag gebruik.
Fase 2
Tydens hierdie fase is die infiltrasie bevestig. Sektor 10 het dan operasies in Ovamboland van stapel gestuur om die infiltrasie te voorkom voordat die vyand die noordelike boerdery gebiede bereik. Andersins was dit om die infiltrasie se vordering te bevestig. Soos reeds gemeld kon die Special Unit hul spore goed verberg deur die infiltrasie te laat saamval met die massa bees-immigrasie na Oos-Ovambo. Die infiltrasie was dan ook uitgevoer met absolute geheimhouding deur ‘n baie kundige groep insypelaars.
Tydens Fase 2 is die volgende aksies deur VM uitgevoer.
1. Die noordelike en suidelike kaplyne van die Mangetti-strook is gevee en gepatrolleer met Buffels, Ratels, motorfietse en per verkenningsvliegtuig (Bosbok).
2. Twee VM lede is elk per plaasopstal ontplooi, en so ver moontlik, (normaalweg Artillerie troepe) om beskerming te verleen aan die gesin en vir patrollering — saam met die boer — van lyndrade en waterpunte. Die nommers van die plaas is in die meeste gevalle ook op opstaldakke geverf om lug reaksie te bespoedig. Arbeiders is ook in grenspatrolering rol aangewend.
3. Gereelde terugvoer, volledige en intensiewe kommunikasie met alle VM elemente, boere, publiek en alle belanghebbendes is konstant gehandhaaf. Dit was krities belangrik om ‘n positiewe moreel te verseker.
4. Alle VM elemente (SAW SAP en SAP) het konstant gekoördineer en is ten noue mee geskakel. Die suksesse van arrestasies in kampongs was deur hierdie optrede te danke. (in beide 61 Meg en die gemeenskap se belange).
Fase 3
Wanneer dit bevestig is dat terroriste die kaplyn oorgesteek het, is alle pogings gefokus om die infiltrasie te stuit en te beeindig.
Met die oorsteek van die kaplyn het SWAPO opgebreek in kleiner groepe ten einde opvolg so moeilik moontlik te maak. Hulle teikens was blanke boere, hul arbeiders, swart woongebiede, VM en infrastruktuur. In die begin is beperkte sukses deur SWAPO behaal deur opstalle aan te val en gesinslede te dood.
Algemeen
VM optrede was egter uitermatig suksesvol en wel om die volgende redes.
1. VM se totale fokus was om die infiltrasie suksesvol te stuit en hierin het VM uitstekend geslaag deur 90%-100% suksessyfer van alle vyand wat geinfiltreer het, te dood.
2. Alle elemente (SAW, kommando’s, boere, boere-vereinings, SAP,Spes magte en burgerlikes) is betrek en gefokus op die taak.
3. Slagveldvoorbereiding was uitmuntend deurdat die volgende gedoen is.
a. Alle dwarspaaie oos-wes is konstant gevee en gepatrolleer sodat die vordering van die infiltrasie gemonitor kon word en spore opgetel vir opvolg kon word.
b. Die Noord-kaplyn tussen Ovamboland en die blanke boerdery gemeenskap is konstant gevee deur voertuie met waarnemers. Die torings wat toegerus is met langafstand verkykers en nag toerustig is voltyds beman en rapportering opgevolg.
c. Troepe is by opstalle ontplooi vir beskerming en patrollering. Huise is genommer om lugopsporing van plase te vergemaklik.
d. Boere en kommando-lede is gemobiliseer om grensdrade en waterpunte te patrolleer.
e. Kommunikasie is konstant gehandhaaf met alle belanghebbendes en die publiek was ingelig gehou.
f. ‘n Vergoedingstelsel is geimplimenteer vir inligting wat bevestigbaar was, gevange en/of dooie SWAPO lede en SWAPO uitrusting.
g. Maksimum spoorsny en opvolgvermoëns (insluitend honde) is ontwikkel om alle spore op te volg.
h. Meg magte ondermeer Pantser-karre is op stoplyne (dwarspaaie) in ‘n waarnemings rol suksesvol gebruik.
i. Meg magte is ook vir kordonne by Kombat kampong en self by Katatura die swart woongebied te Windhoek gebruik terwyl SAPdie soektog gedoen het.
j. Verkenningsvliegtuie is suksesvol aangewend en kaplynverkenning tov spoorkruising te doen (ongeveer 70â° verkenningshoek voor 10h00 en na 16h00)
k. Voorsny operasies is ook gebruik ten einde maksimale druk te weeg te bring met gevolg dat Vy optrede gerig was op hulle eie oorlewing instede van hulle teikens.
(Verwydering van voertuigdempers (silincers) deur Koevoet om spoor in ‘n rigting te probeer dwing — op flanke om verandering van spoorrigting af te dwing).
4. Hierdie slagveldvoorbereiding het ten doel gehad om ten alle tye rekenskap te kan gee van alle SWAPO teenwoordigheid ten einde maksimale druk dmv opvolg- en voorsnyoperasies toe te pas. Ten einde hierdie druk te handhaaf is spoorsnyers, honde, helikopters, boere met plaaswerkers en alle VM elemente gebruik. Die toewyding van alle deelnemers om die oogmerk van maksimum druk te handhaaf en te fokus was merkwaardig. Die doel van hierdie druk was uiteraard om SWAPO aan die beweeg te hou sodat spore gegenereer, opgevolg en kontak bewerkstellig kon word. Dit is belangrik om te meld dat die buitengewone vasberadenheid van SWAPO om deur te druk en te ontwyk getuig het van spesialis opleiding. Ek twyfel of ‘n beter vertoon van teen-spoorsny tegnieke — onder uiterste druk — êrens elders gevind sal word.
Met maksimale druk wat bedags gehandhaaf is is selfs donderbuise (Thunder flashes) snags af gegooi — oor gebiede waar SWAPO waarskynlik teenwoordig was — ten einde hulle aan die beweeg te hou en uit te put.
Opsomming
Onteenseglik was hierdie TEIN operasies van 61 Meg Bn Gp suksesvol en juis omrede alle moontlike VM elemente en vermoeëns betrek en suksesvol aangewend is. Die resultaat bereken tov vyandelike verliese teenoor eie magte inset — is vanselfsprekend. Die feit is dat hierdie operasies ‘n besliste resultaat gehad het deurdat die vyand maksimale verliese (95%-100%) toegedien is en die vyandelikse oogmerk voorkom is.
Die Hoof van die Leer het oor hierdie periode opleidingskursusse vir RSA boere aan die TEIN ops van 61 Meg Bn Gp te Tsumeb geskeduleer om hulle voor te berei vir huis en haard beskermingstegnieke. Nogeens een van die vele prestasies van 61 meg om op trots te wees.