041330B Mei 1978. Lugmag bestook teiken Bravo en vegspan 1 en beweeg teen beste spoed vanaf versamelgebied +- 4 km vanaf doelwit.
041345B Mei 1978. Vegspan 1 stel op in gevegsformasie in landerye net noord van doelwit en trek vuur. Koring het geil gestaan en sig was baie meer beperk as verwag is. Op die stadium het ek met die kanon begin te vuur. Daar was egter onmiddellik `n storing as gevolg van takkies wat voor die werkende dele ingeval het toe die kanondeksel oopgemaak is. Vir die beweging tot by die eerste loopgraaf kon ek geen teikens waarneem nie en het `n paar sarsies spekulatief gevuur.
In die basis was dit feitlik onmoontlik om deur visier waar te neem en te vuur. Ek het toe ewe effektief gevuur deur die groot sigblok. Indien my aanslag nie op teiken was, het ek net `n vinnige korreksie gemaak. Op die stadium was ons in die middel van die basis en het op verskeie teikens gevuur. Ons voertuig het op die stadium ratkasprobleme ontwikkel en ons het net deur die basis beweeg waar die vegspanbevelvoerder oorgeklim het in `n ander voertuig en toe verder uit gebuit.Ons voertuig het toe suid van die basis gestaan en ek en `n ander kanonnier het onmiddellik my wapen uitmekaar gehaal.In ons haas, het die ander kanonnier die loop onderstebo ingesit met die gevolg dat ons kanon se werkende dele voor gesluit het. Ons moes toe weer die hele wapen uitmekaar haal maar daar was gelukkig genoeg tyd.
Ek dink in elk geval in die situasie waarin ons voertuig was, het die Browning masjiengeweer beter werk gedoen as wat ek uit die aanwending van die 20 mm kanon sou kon kry.Die rede hoekom ek dit sê is omdat al die teikens was binne 50 m wat waargeneem was en dit was moeilik om jou oog op die ronde visier te hou en waar te neem.
041800B Mei 1978 het ons vanaf Bravo basis vertrek en 3 km suid `n laer getrek.