61 Mech Stories

My R1 kon skielik om hoeke skiet

Ek was in majoor van Lill se voertuig toe ons Teiken Bravo inry.

Ons het toe nog almal bo die voertuig uitgestaan.

Majoor van Lill het op ‘n stadium geskree dat ons by die Ratel se skietpoorte moet uitskiet en ek het toe maar tussen die dakluik en die voertuig se romp uitgeskiet, omdat ek nie kon besluit of ek binne of buite moet staan nie.

Majoor van Lill het weer beveel om in te klim en almal het vir omtrent twee sekondes afgesak.

Op daardie stadium het ek ‘n teiken waargeneem maar net toe ek die loop deur die skietpoort druk, ry ons teenaan ‘n boom verby en toe skielik het ek ‘n R1 wat om hoeke kan skiet.

Ek het verder die majoor se geweer gebruik, maar wou nie weer die loop buig nie, met ander woorde ek kon toe net bo uitskiet.

Ek het die spaar kopstuk op gehad en kon dus die bevelvoerder, kanonnier en drywer se teikenaanduidings hoor maar in die chaos kon ek net op drie effektiewe teikens vuur neerbring.

Alhoewel ek geen terrie sien val het op ‘n spesifieke skoot nie, dink ek die kanse is goed dat ‘n paar van hulle getref is.