61 Mech Stories

Korporaal Bridgeman word deur 'n mortier getref

Dan vertrek ons, dan vertrek ons nie

Die 30ste April het ons ons kar opgebom en gereed gemaak om die aand te vertrek om Bravo basis te gaan aanval.

Die aand ongeveer 03h00 het hulle ons gese dis uitgestel vir 24 uur. Die volgende aand het hulle dit weer uitgestel, so ook die volgende aand het hulle dit weer uitgestel.

Die Woensdagaand is ons toe weg om Bravo basis aan te val. Ons het op Ondangwa en Ombalanto brandstof ingegooi. Van Ombalanto het motorfietse ons gelei na waar ons laer getrek het.

Probleme met ons Eland pantserkar se ratkas

Die volgende oggend het ons net voor die kaplyn moeilikheid met ons kar se ratkas gekry en toe het die tegniese pesoneel dit kom herstel en toe is ons oor die kaplyn waar ons by die Ratels aangesluit het. Ons het toe verder beweeg tot ons later naby die basis was. Daar het ons gewag vir die Lugmag om die basis te bombardeer.

Ons het stelling ingeneem en die geveg het begin

Net daarna is per radio laat weet dat ons maar kan ry ten volle spoed na die basis. Ons het in die eerste posisie ingetrek en toe met die Browning masjiengeweer begin skiet in die basis. Daarna het ons uitgetrek en in ‘n beter posisie ingetrek.

Ek het toe gehoor dat die drywer, kavelaris HG Jacobs, vir my gese het dat daar ‘n Swapo voor my verbyhardloop ongeveer 150 meter van ons af. Ek het hom toe met ‘n bom geskiet. Daarna het ek my Browning belt klaar geskiet. Die spanleier, korporaal TM Bridgeman het vir my nog ‘n belt rondtes vir die Browning gelaai.

Korporaal Bridgeman word getref

Net toe ek wou skiet, het ek ‘n oorverdowende slag gehoor en toe se my spanleier hy is raakgeskiet. Die rede waarom hy raakgeskiet is, was omdat sy luik 2 duim oop was. Ek het toe vir die drywer geskree om uit te trek en na die mediese pos toe te ry.Ek het toeper radio aan my troepleier, tweede luitenant GT Ferreira, laat weet dat daar ‘n skietongeluk was.

Daar is later vasgestel dat dit ‘n mortier weas wat eers die lugafweer Browning getref het voordat voor die spanleier se luik ontplof het. Die kar het geringe sskde opgedoen.

By die mediese pos het ek en ‘n korporaal vir korporaal Bridgeman uit die kar getel en in die Ratel getel. Hy was toe nog bewusteloos en is eers later in die Ratel oorlede.

Ons het toe dekkingsvuur vir die Ratel gedoen en onderkorporaal Paynter het as spanleier in ons kar geklim.

Die terugkeer

Na opruiming in die basis het ons weer by die Ratels aangesluit waar ons verneem het dat korporaal Truebody van roepsein 14 Bravo ook dood is.

Die aand het ons in Angola geslaap en die volgende oggend het ons ‘n paar skote op die ander basis geskiet en daarvandaan terubeweeg na Ombalanto waar ons brandstof ingegooi het.

Later die dag het ons terug beweeg na Oshivello.