61 Mech Stories

Ervarings van 'n Elanddrywer

Voor Ops Reindeer was ons ook op Omuthiya gestasioneer.

Vir ‘n paar dae het ons opgepak en weer afgepak. Toe kom die tyding, ons gaan nou in.

Ons is daar weg, op pad Ondangwa toe, waar ons brandstof aangevul het, en weer daarvandaan na Ombalantu waar ons weer brandstof gekry het.

Van Ombalantu is ons oor die grens tot by ‘n klein dorpie in Angola. Daar moes ons wag dat die lugmag die basis (Bravo) eers moes bom.

Na ons die bevel gekry het, het ons so vining as moontlik gery tot by ons teiken.

Ons kar, 14C, was heelvoor. Daar gekom trek ons in die eerste vuurstelling in en looi hulle met die 90 en Browning. Na ons ‘n paar rondtes daar geskiet het, beweeg ons na die volgende vuurstelling aan die suide kant van die basis.

Toe ek daar stop, sien ek hoe die ters hardloop en skarrel, reg voor ons. Die gunner skiet toe daar n paar 90 rondtes in en dit lyk of dit stiller daar voor is. Ons laat loop met die 90 en die karre langs ons doen dieselfde.

Meteens is daar n helse slag bo-op ons kar en ek kyk om bo in die turret in en sien dat Bridgeman, die crewcommander, se hele gesig snaaks lyk en vol bloed is. Ek trek toe uit die vuurstelling uit , op-pad medics toe. Toe ons daar wegry sien ek die kar langs ons se drywer en gunner le agter hulle kar op die grond en skiet.

Op-pad medics toe sien ek ons bevels Ratel en jaag na hom toe. Daar gekom, klim ek uit en wys vir die offisiere deur die sigblokke van die Ratel, dat my crewcommander gewond is.

Toe maak hulle eers die sydeur oop om te hoor wat aangaan. Ons tel toe vir Bridgeman uit die toring uit, wat toe al sy bewussyn verloor het, en laai hom in die Ratel. Hulle jaag toe met hom na die medics toe, en ons agterna om vir hulle dekkingsvuur te gee.

Laat die middag hoor ons dat Bridgeman dood is.

Die kar wat langs ons gestaan het,14B ,se crewcommander, Herbert Truebody, is ook dood.

Ons kar is toe getref deur ‘n mortier wat reg voor die crewcommander ontplof het. Sy hatch was op die obserwasie skreef gewees,en al die skrapnel is daar deur en in sy gesig in. Truebody se kar is deur n 75 recoilless getref en is reg voor die crewcommander deur wat hom vol getref het.

Na die aanval het die supporties en die infanterie die basis gevee en opgeruim .Die hele eskadron is toe suid, ‘n entjie van die basis af. Daar het ons laer getrek. Ons moes daar slaap om te wag vir ‘n teenaanval die volgende dag. Daardie nag is daar nie geslaap nie, want wie kan slaap as jy jou maters n paar uur terug verloor het.

Dit was nogal n snaakse ding, makkers wat in een kar gery en gelewe het bou ‘n vriendskap en kameraadskap op wat jy nie vir iemand anders kan vertel nie.

Die volgende oggend het ons verder suid gery en op nog basisse geskiet, maar hulle was reeds ontruim.

By die grens gekom, na Ombalantu waar ons weer brandstof vol gemaak het, en vertrek het na Omuthiya. Daar gekom, het ons karre skoon gemaak, en ook probeer om ons koppe skoon te kry.

Na ‘n paar dae is ek geroep deur die bevelvoerder wat my toe gese het om Truebody se kar Grootfontein toe te vat.Ek en ‘n Tiffie is toe weg met die kar ,Grootfontein toe.

Daardie trippie sal en kan ek nooit vergeet nie. Dis nie lekker om met ‘n kar te ry waarin die reuk van die dood nog hang en waarin jou kameraad se oorblyfsels nog is nie. Daai goed bly by jou die res van jou lewe.