61 Mech Stories

Die bokke wat die vleispotte gesystap het

By die lees van die ander manne se herinneringe kom die dag van 4 Mei 1978 weer vars in die geheue op. Ek glo nie enige een wat daar was sal die dag kan vergeet nie. Carstens (Oom Ep van Lill se drywer) se storie oor die man wat pale uittrek om weg te kom onthou ek ook nog. Daar is vele herinneringe van die dag waarvan ek een vertel wat op bietjie ligter noot is.

Toe ons terug in Ovamboland is, het ons by Ombalantu gestop om, ek dink, voorraadopname of so iets te doen. Die manne het wedervaringe van die vorige dag se geveg uitgeruil en wou ook so onderlangs vasstel hoeveel AK-bajonette gebuit is.

Don Colbe en Vlakhaas du Toit (seksieleiers in Peleton 2)kom toe by my aan en sê vir my kom kyk wat het ons gekry. Groot was my verbasing toe ek in elkeen van hulle Ratels lewendige boerbokke kry. Sien, verduidelik Vlakhaas, ons moet darem iets braai as ons terug is op Oshivello. Ek word toe ook so ewe genooi vir die braai van die bokke as ons terug is op Oshivello. Maar voor ons op Oshivello kom hoor oom Ep van die bokke en die braai vind toe nie plaas nie. Op sy bevel moes die bokke saam Bloemfontein toe as A Kompanie se “mascots”.

Die bokke word toe lewendig in groot bokse – ek dink dit was nog “Post Toasties” (daai lekker infanterie ontbytkos) bokse. Toe die lugmag laaimeester op Grootfontein lughawe vra wat is in die bokse is vir hom gesê “staatsgeheime”.

In Bloemfontein het die een ooi gelam en een van die troepe in my seksie, Boshoff, het elke winteroggend die ooi gaan melk en die melk aan die troepe verkoop. Ek kan onthou dat een van die bokke selfs met ‘n tou om die nek saam met A Kompanie op parade was. Ek kan ongelukkig nie onthou wat die geleentheid was nie.

Ongelukkig moes A Kompanie weer grens toe gaan. Toe ons na ses weke se heerlike vakansie op Katima Mulilo terugkom in Bloemfontein was die bokke weg.

Weet van die manne dalk wat het van A Kompanie se mascots geword??